Oudpres Jacob Zuma se doel met sy nuwe MK-party is om president Cyril Ramaphosa uit die parlement te verwyder en die mense van Suid-Afrika te bevry. Zuma het in ‘n eksklusiewe onderhoud met The Saturday Star gesê daar sal niks van die land oorbly vir die nageslag indien Ramaphosa weer president word nie.
Zuma het gesê Ramaphosa was die oorsaak dat hy in 2021 in hegtenis geneem en tronkstraf opgelê is. Zuma het gesê hy is bewus van planne om deur spook-stemme die verkiesing te manipuleer sodat die ANC kan wen, veral deur middel van spesiale stemme. Zuma het bygevoeg die MK-party het die toestemming van die voorvaders om die regering oor te neem en ‘n twee-derde meerderheid te kry.