Die Organisasie teen Belastingmisbruik, of Outa, doen ‘n beroep op burgers om president Cyril Ramaphosa se staatsrede môre te ignoreer om teen die regering se ontoerekeningsvatbaarheid te protesteer.
Die organisasie sê dit is nodig dat landsburgers hulle sigbaar van die regering distansieer as ‘n teken van protes aangesien die staatsrede ‘n gebeurtenis van politieke houding en leë retoriek geword het. Die organisasie glo dat pres Ramaphosa vanjaar se toespraak op sy party se politieke skouspel sal fokus as ‘n instrument vir die komende verkiesing, eerder as om die land se kritieke kwessies aan te spreek. Outa se hoof- uitvoerende beampte, Wayne Duvenage, sê die publiek sal weer luister na leë beloftes, wat deurgaans jaar na jaar in die toespraak gebeur het.