Die Bloemfonteinse pa wat na afloop van die Springbokke se wedstryd teen Portugal ernstig aangerand is, het sy bewussyn herwin. Gino de Wee moes ‘n noodoperasie ondergaan vir breinbeserings wat hy opgedoen het toe een van sy aanvallers hom herhaaldelik met ‘n valhelm slaan.
Bloemnuus berig De Wee het die wedstryd saam met sy 17-jarige tweelingdogters en sy broer, Earlston Booyse bygewoon. Volgens De wee se vrou, Yolanda, is die twee mans op pad na Booyse se motor deur twee onbekende mans agtervolg voordat hy aangerand is. Luitenant-kolonel Thabo Covane sê die saak word ondersoek. Die motief vir die aanranding is onbekend en niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.