As dit van Pacofs se nuwe hoof afhang, sal die Sand du Plessis-teaterkompleks in Bloemfontein, se tuin gou weer ‘n lushof wees.
Bloemnuus berig weens ‘n oënskynlike gesloer met die instandhouding en opknapping van die tuin, het die nuwe uitvoerende hoof, Themba Dlamini, nou besluit om sy eie sak te skud om die tuin tot sy eertydse glorie te herstel.
65 personneellede van Pacofs gaan Maandag ook skouer aan die wiel in die tuine sit.
Pacofs-woordvoerder, Adri van Veijeren, het gesê baie klagtes is van die publiek ontvang oor die toestand van die tuin en hulle moes die klagtes na die departement openbare werke, aan wie die kompleks behoort, verwys.
Die bekende Bloemfonteinse botanis en tuinier, die 80-jarige Trewhella Pienaar, het vroeër vandeesweek reeds begin om die plante en bome in die tuin te snoei.
Mense wat met die tuin-projek wil help, kan Van Veijeren by 066-298-0438 bel.