Terwyl die minister van openbare betrekkinge en samewerking, doktor Naledi Pandor, sê die slagting van mense in Palestina, herinner aan ‘n apartheid-Suid- Afrika, het die regering al sy diplomate uit Israel herroep. Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het vroeër vandag gesê nog ‘n Holocaust mag nie in die geskiedenis toegelaat word nie.
Ntshavheni reken die herroeping stuur ‘n duidelike boodskap oor die Suid-Afrikaanse regering se misnoë met die situsasie in Gasa.
Intussen val pleidooie van reg oor die wêreld, vir ‘n wapenstilstand in die voortslepende Israel-Hamas-oorlog, op dowe ore. Luidens Reuters, is ‘n skietstilstand die enigste hoop om lewensnoodsaaklike humanitêre hulp aan mense in die beleërde Gasa-strook te kan verleen.
Daar is onder meer reusetekorte aan kos, drinkwater, mediese toerusting en brandstof.
Ongeveer een komma vyf miljoen mense – dit is meer as die helfte van die Gasa-strook se totale bevolking – moes reeds uit hul huise vlug.
Nagenoeg 700 000 ontheemdes word in skuilings van die VN se Palestynse vlugteling-agentskap gehuisves.
Die skuilings is egter reeds oorvol, met ‘n groot aantal mense wat nou in strate naby die skuilings slaap. Derduisende ander haweloses kruip in hospitale en kerke weg.