‘n Hoëvlak-afvaardiging gaan glo na die VSA reis, in ‘n poging om te red wat te redde is van Suid-Afrika en Amerika se wankelagtige verhouding.
Volgens Rapport sal die hoofdoelwit wees om ontevredenheid oor Suid-Afrika se Wêreldhof-aansoek teen Israel – wat ‘n bondgenoot van Amerika is – te besweer. Rosestad-nuus het onlangs berig ‘n wetsontwerp is in Amerika ter tafel gelê wat voorstel dat die VSA alle bilaterale betrekkinge met SA moet heroorweeg.
Die voorgenome besoek sal na verwagting binne die volgende twee maande plaasvind. Die afvaarding sal gelei word deur minister Naledi Pandor van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking. Amerika is tans Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot. China is die grootste.