Die vervaldatum vir miljoene COVID-19-entstowwe wat aan die einde van Oktober vernietig sou word is verleng. Meer as agt-komma-vyf miljoen Pfizer-dosisse entstof sou einde Oktober verval en vernietig word maar die vervaldatum is nou na Desember en Januarie verander. Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het die verlenging op aanbeveling van kundiges goedgekeur. Die Departement van Gesondheid sê die entstowwe is steeds heeltemal veilig en doeltreffend. Intussen het ’n top mediese kenner van die Universiteit Stellenbosch, professor Tulio de Oliveira, gesê die wêreldwye vertraging van ‘n sesde COVID-19-vlaag is goeie nuus. Volgens De Oliveira kan dit moontlik die uiteindelike einde van die pandemie aandui. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het ook verlede week bevestig dat daar onlangs ‘n aansienlike daling in nuwe gevalle was.
