Die verhoor van twee plaaswerkers wat glo verlede jaar ‘n 73-jarige Vrystaatse boer van die Glen-distrik en sy vrou vermoor het, begin Woensdag in die hooggeregshof in Bloemfontein.
Netwerk24 berig die waarnemende regter het Maandag die verhoor van Mohau Lebeko en Motlalentoa Wolf, wat aangekla word van die moord op Christo Morrison en sy vrou, Christa, tot dan uitgestel.
Die verhoor was veronderstel om Maandagoggend te begin, maar Lawrence Tshabalala van die Regshulpraad wat namens Lebeko optree, het eers Vrydag opdrag gekry om die beskuldigde te verdedig.
Luidens die klagstaat het Lebeko en Wolf in Mei verlede jaar op Morrison se plaas, Rietfontein, in die Glen-distrik gewerk. Hulle was glo saam met hom naby die plaashuis toe hulle hom na bewering oorval en herhaaldelik met ‘n skaapskêr gesteek het.
Morrison het ineengestort terwyl hy probeer vlug het en is op die toneel dood. Daarna het die twee glo sy vrou in die plaashuis oorval.
Sy is ook wreed vermoor.