Nóg plekke in en om die Vaalrivier, wat ook plekke in die Vrystaat insluit, het positief getoets vir cholera. Maroela Media berig hoewel die departement van gesondheid sê die laboratoriumbevestigde cholera-gevalle neem af, sê hy ook dit beteken nie dat die verspreiding van cholera op ‘n einde is nie. AfriForum het watertoetse in die Vaalrivier, die rivierstelsel en omliggende dorpe gedoen, nadat vroeëre toetse in dié rivier positief vir cholera getoets het. Toetsuitslae wys dat ook E. coli in meeste van die watermonsters gevind is. Cholera is positief getoets in water by die Barrage-brug, Vaalrivierwater by Parys, in Welkom by Thabong waar die Mostertkanaal begin asook ‘n voor wat in Witpan inloop by Welkom. Ook water in die Vaalrivier by Barkley-Wes, Douglas en Warrenton het positief getoets. Altesaam 1-duisend-43
vermeende gevalle van cholera is tussen 1 Februarie en 4 Julie in vyf provinsies aangemeld. Die meeste is in Gauteng aangeteken, gevolg deur die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga. Altesaam 47 sterftes is in dié tyd met cholera verbind, insluitend vier onlangse sterftes die afgelope twee weke in die Vrystaat.
