Die stasiebevelvoerder, wat op Facebook verkondig het sy wil die sogenaamde “white supremacy” by die polisiekantoor in die Paarl tot ‘n einde bring, het bedank.
Brigadier Nokuthula Pete het die plasing – wat ‘n reuse rassedebakel ontketen het – in Desember verlede jaar gemaak. Hierin het sy onder meer ook geskryf dat die “Paarl te wit” is. Sy het die plasings intussen verwyder, maar skermgrepe is geneem, voordat sy haar omstrede sosialemedia-spoor kon toevee.
Maroela Media berig dit is onduidelik of die polisie se interne ondersoek afgehandel is, en indien wel, wat die bevindings is. Die vakbond Solidariteit, wat druk op die polisie geplaas het om daadwerklik teen Pete op te tree, sê hy is verheug oor haar bedanking.