Die polisie in die Vrystaat het 82 verdagtes in hegtenis geneem tydens Operasie Vala Umgodi in veral die Lejweleputswa munisipaliteit asook Thabong naby Welkom. Polisiewoordvoerder, sersant Peter Kareli, sê die operasie het ten doel om onwettige myners vas te trek. Hy sê onwettige mynbedrywighede lei tot ander misdaad soos roof, ontvoering, oortreding van eiendom en die besit van vervalste goedere.

Kareli sê die polisie het verskeie padblokkades in Welkom, Viljoenskroon, Thabong, Bothaville, Wesselsbron en Virginia gehou waartydens verdagtes in hegtenis geneem is vir die besit van gesteelde goedere, onwettige mynbedrywighede, die besit van vervalste sigarette asook die besit van goud en toerusting wat gebruik word deur onwettige myners. Ander verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms en gevaarlike wapens.

Kareli sê die polisie het gefokus op die G-hostel en ander gebiede in Thabong. Die operasie duur voort en verdagtes sal eersdaags in die hof verskyn. 

error: Inhoud is beskerm !!