Die polisie in Virginia het die week vyf verdagtes in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem nadat hulle met gesteelde beeste betrap is. Woorvoerder van die polisie, kaptein Stephen Thakeng, het gesê in die eerste voorval het twee mans wat beeste aangejaag het, probeer vlug. Hulle is ingehaal en in hegtenis geneem. Die polisie het 12 Bonsmara koeie en ‘n kalfie ter waarde van R155 000 geskut. Die eienaar is deur middel van die beeste se brandmerke opgespoor. In ‘n tweede geval het die polisie afgekom op drie mans wat beeste slag in die Virginia-omgewing. Die verdagtes is ook in hegtenis geneem. Die polisie het op kapmesse en nog vyf beeste beslag gelê. Die boer het later sy beeste kom uitken en teruggeneem.
