Die polisie in die Vrystaat het Maandagmiddag sewe verdagtes in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en moord van die 66-jarige Mike Pattison, ‘n boer van Sterkfontein naby Harrismith. Netwerk 24 berig Pattison het nie Maandag by die Harriston-skool opgedaag waar hy as administrateur gewerk het nie. Pattison se broer, Philip, het Maandagoggend die polisie se hulp ontbied omdat hy nie by sy werk opgedaag het nie. Adjudant Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het gesê Philip het plaaswerkers gevra om by die plaashuis ondersoek te gaan instel. Die plaaswerkers het Pattison Saterdag laas gesien en sy voertuig was weg. Sy hond was beseer en daar was bloed op die kombuisvloer. Met die hulp van Netstar, is Pattison se bakkie naby ‘n taverne in Qwaqwa gevind. Sewe mense het van die toneel gevlug en skote is afgevuur. Al sewe die verdagtes is in hegtenis geneem. Die polisie het op Pattison se liggaam met verskeie oop wonde afgekom. Twee skootrekenaars en ‘n kamera, wat vermoedelik aan Pattison behoort, is ook in die huis gevind. Pattison was ‘n alleenloper wat met beeste op die plaas Summerslie geboer het.