Die Suid-Afrikaanse klerebedryf sê die polisie is nie in staat om die toestroming van vervalste klere na die land te keer nie. Die polisie het die naweek vervalste items ter waarde van drie miljard rand in Gauteng vernietig. Dit het luukse sakke, klere en tekkies ingesluit. Die klerebedryf sê die oplossing lê daarin om te keer dat die items die land by hawens binnekom. Volgens die Sabinet African Journal is vervalste klere die wêreld se vinnigste groeiende en mees winsgewende bedryf. In Suid-Afrika word daar nie op groot skaal vervalste klere of skoene vervaardig nie, maar eerder ingesmokkel deur die land grense of deur hawens.