Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ‘n negejarige meisie in Zwelitsha in die Oos-Kaap gesterf het, vermoedelik nadat sy ’n pakkie skyfies geëet het.
SABC News berig die meisie het by die skool siek geword en is later by die kliniek dood verklaar.
Polisiewoordvoerder Majola Nkohli sê die omstandighede rondom haar dood word ondersoek.
Na bewering het die meisie swak geword en haar mond het begin skuim. Sy is na die naaste kliniek geneem waar sy dood verklaar is.
Die Departement van Onderwys is versoek om leerders teen sulke voorvalle te beskerm en het sy medelye aan die kind se familie en skool betuig.