Luitenant-kolonel Thabo Covane van die polisie sê hy nie seker is of dit veilig sal wees vir die media om vanoggend se Sanco-massavergadering in Batho by te woon nie.
Dít in reaksie op navraag van Rosestad-nuus. Sanco veg hand en tand vir grondbesetters om aan te bly op die munisipaliteit se grond langs die Jagersfonteinpad. Inwoners van die aangrensende Lourierpark-woonbuurt is woedend sedert duisende mense die afgelope week hierheen gestroom het. In ‘n plasing op Facebook – met ‘n foto waar die Rooimiere ‘n woonstruktuur afbreek – skryf Sanco dat hy saam met Mangaung se mense staan, en dat daar beslis veilige en gerieflike blyplek op die grond aan Bloemfontein se suidekant sal wees.
Die hooggeregshof in Bloemfontein het laat gisteroggend Sanco se aansoek om ‘n uitsettingsbevel te betwis, van die hand gewys. Sekere mense wie se woonstrukture sedert Vrydag deur die Rooimiere afgebreek is, het gister saam met lede van Sanco voor die hof saamgedrom. Die uitnodiging vir vanoggend se massa-byeenkoms het gevolg nadat die groep van meer as ‘n honderd betogers gister by die hooggeregshof weg is.