Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ontken dat dit hulpbronne in die soektog na die sesjarige, Joslin Smith, van Saldanhabaai onttrek het.
Die graad 1-leerder het reeds twaalf dae gelede uit haar huis in Diazville vermis geraak.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit se burgemeester, Andre Truter, het die Wes-Kaapse regering gevra om te help soek na die kind en gesê die polisie het sy hulpbronne onttrek.
Die DA in Kaapstad het ook ‘n plasing op sosiale media gedeel waarin beweer word dat die polisie aan die soektog onttrek het.
‘n Woordvoerder van die Polisie Ministerie, Lirandzu Themba, sê die bewerings is onwaar.