‘n Polisie-soektog is van stapel gestuur nadat ‘n gewapende ryloper in die Vrystaat twee mense doodgeskiet het en een gewond gelaat het.
Die provinsiale polisie se sers. Mahlomola Kareli sê in ‘n verklaring die slagoffers het ‘n saamrygeleentheid aan ‘n onbekende ryloper aangebied, waarna die man agterop hul bakkie geklim het.
Soos die bakkie by die informele nedersetting naby Ficksburg ingery het, het die verdagte die voertuig se ruit gebreek en op die insittendes begin skiet. Die bestuurder en een passasier is op die toneel dood verklaar, en ‘n derde insittende is beseer.
Polisie in Ficksburg ondersoek twee sake van moord, en een van poging tot moord. Nog niemand is in hegtenis geneem nie, en ‘n grootskaalse ondersoek is aan die gang.
Enigiemand met inligting word versoek om Ficksburg-stasiebevelvoerder kol. Sephiwe Kunene by 082 564 9684, die polisie se misdaadlyn 08600 10111 te kontak of ‘n anonieme wenk via MySapsApp te stuur.