Die polisie is op soek na 11 verdagtes wat na bewering gisteroggend ’n juwelierswinkel in die Cresta-winkelsentrum in Randburg, Johannesburg beroof het. Volgens die polisie het die rowerbende net na elfuur koevoete en hamers gebruik om by die winkel in te breek.
Die verdagtes het verskeie skote afgevuur voordat hulle met sakke vol goedere gevlug het. Mense het in die chaos skuiling gaan soek in ander winkels in die sentrum. Die vermoede is dat die rowers die skote afgevuur het toe die veiligheidswagte nadergekom het. Niemand is beseer nie. Die rowers het ná die rooftog in twee voertuie van die toneel gevlug.