Die polisie soek tans na twee verdagtes wat vermoedelik ’n bejaarde vrou en haar middeljarige seun in hul huis in Phuthaditjhaba in die Oos-Vrystaat doodgeskiet het.
Nuusflits berig die verdagtes het aan die voordeur geklop en na die vrou se ouer seun gevra.
Toe sy vra waarom hulle hom soek, het hulle na sy slaapkamer gegaan.
Kort daarna het die jongste seun, wat ook in die huis was, skote gehoor en gevlug.
Die liggame van die ma en haar een seun is later in die slaapkamer gevind, albei met skietwonde aan die kop.
Die motief agter die moord is steeds onbekend.