Die polisie se teen-bende eenheid in Welkom het ‘n 34-jarige man in hegtenis geneem weens die besit van twee vuurwapens sonder ‘n lisensie. Een van die wapens is ‘n pistool wat 30-jaar gelede in Potchefstroom as gesteel aangemeld is.
Polisiewoordvoerder, kapt Stephen Thakeng, sê ‘n lid van die gemeenskap het die polisie bewus gemaak van die man wat moontlik ongelisensieerde wapens in sy besit het. Thakeng sê die eenheid het die man by sy werksplek gaan haal en na sy huis geneem.
Die polisie het op die pistole asook ammunisie afgekom. Een van die pistole se reeksnommer is afgevyl. Die polisie ondersoek die moontlikheid of die wapens tydens misdaad gebruik is.