Senior polisielede aan stuur van die polisiekollege in Phillippi dra glo by tot die verkwisting van miljoene rande by die opleidingskool deur luukse kosse te eet en van die kruideniersware weg te ry. ‘n Polisiekaptein wat aan die polisiekollege verbonde is, beweer die kollege koop elke maand bykans 800-duisend-rand se kruideniersware aan maar die helfte daarvan word weggedra. Rapport berig die kaptein maak in ‘n verklaring van 20 Bladsye aan die Valke, ernstige aantygings van bedrog, korrupsie en geldwassery teen die polisiekollege. Benewens die kruideniersware bestee die kollege na bewering ook R160 000 per maand aan luukse versnapperinge soos vrugtesap, koekies en neute vir senior personeel. Volgens die fluitjieblaser eet die studente afgewaterde kos wat soos hondekos lyk, terwyl die hoof van die kollege, kol Phumlani Hlubi, en sy bestuurspan weglê aan drie buffet etes per dag wat biefstuk en lamsvleis insluit. Die kaptein het gesê hy het al gesien hoe die studente die kollege se vleis en kruideniersware na die senior bestuurders se motors dra. Hlubi het oor die aantygings gelag en gesê die media kan maar kom die dag as hy gearresteer word.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×