‘n Voorlopige verslag dui daarop dat ‘n lid van die polisie in die been gewond is, toe hulle Eskom-werkers vergesel het om die krag op ‘n plaas buite Kimberley, in die Vrystaatse Xhariep-distrikmunisipaliteit, af te sny.
Volgens Phaladi Shuping, die woordvoerder van die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (Opod) het die eienaars van Cats Place of Safety, die hekke van die leeukampe oopgemaak met die polisie se aankoms. Een van die polisielede het na bewering geval, sy vuurwapen afgevuur en sy kollega in die been gewond – oënskynlik toe hulle weggehardloop het.
“Dit is verskriklik om te dink die polisiemag kan ons nie beskerm nie, maar hulle daag in hordes op om krag af te skakel,” het Tercia Burger, van die nie-winsgewende Felidae-sentrum, aan die Noordkaap Bulletin gesê. Volgens Burger het die polisie en Eskom, sonder ‘n lasbrief, die plaas deur ‘n Eskom-toegangshek betree.
Sy vertel hulle het na bewering skote in die Nyala gehoor voordat die voertuig en ‘n Eskom-bakkie na ‘n kragpaal gejaag het om die kragtoevoer te ontkoppel.