President Cyril Ramaphosa het die nasie gisteraand ingelig oor hoe hy beplan om die aanbevelings van die Zondo-kommissie na staatskaping toe te pas.

Volgens hom is baie reeds gedoen, soos byvoorbeeld nuwe aanstellings by die Nasionale Vervolgingsgesag en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Daar is 202 aanbevelings deur die kommissie gemaak vir strafregtelike ondersoeke en moontlike vervolgings van individue of instansies.

Die Wet op Maatskappye sal binnekort bepaal dat direkteure van private maatskappye vervolg kan word, tot so lank as twee jaar nadat hulle bedank het, of as direkteur verwyder is.

Ramaphosa het ook genoem dat fluitjieblasers dalk met geld, wat as gevolg van hulle inligting teruggevind word, beloon kan word.

Voorts sluit Ramaphosa se planne ‘n ondersoek in na die vlakke van die leefstyl van die president self, die adjunkpresident, ministers en húlle adjunkte.

Hierdie ondersoeke moet bepaal of dié hoës binne hul geldelike vermoëns leef, al dan nie.

Indien dit nié die geval is nie, mag dit dalk daarop dui dat hulle by korrupsie betrokke kan wees.

Hierdie oudits sal deur ‘n onafhanklike entiteit gedoen word.

Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling gaan nou wetgewing ondersoek wat dit ‘n misdaad sal maak om openbare mag te misbruik, of om politieke of grondwetlike wanpraktyke te pleeg.

Dié ondersoek sal skynbaar teen Desember 2023 klaar wees.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×