President Cyril Ramaphosa sê dat mans die meeste van die tyd verantwoordelik is vir geslagsgebaseerde geweld en dat dit juis die mans in die land is wat dit moet verander. Hy het in sy weeklikse nuusbrief vanoggend geskryf dat mans aan die voorpunt moet wees om die oplossings te vind om geslagsgeweld te beëindig. Die president het opgemerk dat daar tussen Julie en September vanjaar 989 vroue vermoor is met net meer as eenduisend slagoffers van poging tot moord en meer as 13-duisend slagoffers van ernstige aanranding. Daar was ook in net drie maande meer as tienduisend verkragtingsake by die polisie geopen. Hy vra dat daar meer gesprekke plaasvind oor mans in die land se houding teenoor vroue.