President Cyril Ramaphosa het gesê kritieke dienste sal te alle tye beskerm word al ervaar die land tans ernstige fiskale probleme. Dit sluit dienste soos polisiëring, gesondheidsorg en onderwys in. Die president het gistermiddag honderde polisiebeamptes, bewaarders en verkeersbeamptes by die vakbond Popcru se tiende nasionale kongres toegespreek. Ramaphosa het in sy hoedanigheid as die president van die ANC gepraat. Hy het gesê dit is belangrik dat die ANC en vakbonde saamwerk om die uitdagings wat die land in die gesig staar aan te spreek. Die president het verder gesê die land het deur geskiedenis bewys dat dit wel verskeie uitdagings kan oorkom.