President Cyril Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief gesê die jongste indiensnemingsyfers is bemoedigend. Statistieke Suid-Afrika het ‘n dalende werkloosheidsyfer vir die tweede kwartaal aangeteken. Volgens Ramaphosa is dit ‘n bemoedigende toename in broodnodige werksgeleenthede. Ramaphosa het gesê noodsaaklike strukturele hervorming moet plaasvind om die sake- en beleggingsklimaat te verbeter, wat sal lei tot ekonomiese groei en werkskepping. Hy het gesê die groei in indiensneming, tesame met ander belowende tekens van ekonomiese herstel, behoort almal aan te moedig om voort te gaan met hervorming en ekonomiese heropbou om beleggingsgeleenthede en ekonomiese groei te ontsluit.
