President Cyril Ramaphosa het gisteraand ‘n beroep op talle Suid-Afrikaners gedoen om Woensdag te gaan stem en vir ‘n vry en regverdige verkiesing te sorg. Die president het tydens ‘n regstreekse uitsending op televisie gesê die mense van die land moet saamwerk om ‘n beter land en toekoms te bou.
Ramaphosa het gesê terwyl daar voorberei word vir die sewende administrasie, moet daar voortgebou word op die vordering wat gemaak is. ‘n Politieke ontleder en hoof van die Kaapse Forum, Heidrich Wyngaard, het gesê die toespraak was eerder ‘n laaste politieke veldtog om stemme vir die ANC te werf. Wyngaard het mense gevra om te stem vir ‘n party wat toegewyd is tot dienslewering.