Prins Mangosuthu Buthelezi, Tradisionele Eerste Minister van die Zoeloes en stigter van die Inkatha Freedom Party, is vanoggend in die ouderdom van 95 oorlede. President Cyril Ramaphosa het die aanondiging gemaak, en Buthelezi as ‘n uitsonderlike leier in die politieke en kulturele lewe van die nasie beskryf. Buthelezi het in Julie ʼn roetine-ondersoek ondergaan weens langdurige rugpyn, maar moes in Augustus weer opgeneem word ná hy ’n komplikasie ontwikkel het ná die prosedure. In ‘n plasing op X loof Ramaphosa vir Buthelezi vir onder meer sy betrokkenheid by die eb en vloei van die vryheidstruggle, die oorgang wat vryheid in 1994 verseker het en Suid-Afrika se demokratiese bestel. Buthelezi het vanaf 1994 tot 2004 as die minister van binnelandse sake in die kabinette van Nelson Mandela en Thabo Mbeki gedien.