Noemenswaardige sukses is die afgelope vier maande deur private veediefstal-ondersoekers in die Vrystaat behaal.
241 gesteelde skape en 98 beeste, met ‘n totale waarde van ongeveer R1,5-miljoen, is sedert Julie vanjaar teruggevind.
Hierbenewens meld Maroela Media, is 14 verdagtes in ses afsonderlike veediefstalsake in hegtenis geneem.
Vrystaat Landbou het vroeër vanjaar, in samewerking met die LGV-veiligheidsmaatskappy, ʼn projek van stapel gestuur om boeregemeenskappe by te staan deur veediefstalsake te ondersoek.
Die ondersoekers is op verskeie dorpe in die provinsie ontplooi en werk saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander misdaadbestrydingsorganisasies in ‘n poging om veediefstal hok te slaan.