Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele, het gesê die projek om skole, hospitale, klinieke, biblioteke en ander staatskantore in Suid-Afrika met die internet te verbind vorder goed. Die minister sê die hersiene tweede fase van die projek wat bekend staan as die SA Connect-program is verlede jaar deur die kabinet goedgekeur. Ingevolge die program sal die staatsonderneming Broadband Inferaco saam met Sentech en ander internetverskaffers hul netwerke en Wi-Fi-kuberkolle uitbrei om aan staatsinstellings internet-verbinding te bied. Die uiteindelike konnektiwiteit aan staatsinstellings sal deur die staat se inligtingstegnologie-agentskap Sita in stand gehou word.