Die polisie in die Vrystaat het gistraand ‘n vermeende perlemoensmokkelaar op die N1 naby Edenburg vasgetrek.
Perlemoen ter waarde van nagenoeg R2-miljoen is in sy bakkie gevind.
‘n Woordvoerder van die polisie, sersant Peter Kareli, het gesê die polisie het die verdagte aanvanklik by Trompsburg probeer voorkeer, maar kon die bakkie toe eers later by Edenburg tot stilstand dwing.
Die verdagte het probeer vlug, maar die polisie het hom in sy spore gestuit en in boeie geslaan.