President Cyril Ramaphosa belowe om die verdeeldheid van Suid-Afrika se verlede te genees. Ramaphosa is vandag by die Uniegebou in Pretoria vir ‘n tweede termyn as die land se president ingesweer. Hy sê Suid-Afrikaners moet alle pogings om die land te verdeel en mense teen mekaar te draai verwerp. Die president het ook belowe om die ongelykhede en swaarkry van die hede te oorkom.
Die parlement sê intussen dit is nie in staat om bewerings van rassisme teen die DA se parlementslid (LP), Renaldo Gouws, te ondersoek totdat hy die eed as lid van die Nasionale Vergadering afgelê het nie. Dit was in reaksie op oproepe om Gouws as LP te verwyder ná die heropkoms van ‘n videogreep wat hy 15 jaar gelede gemaak het. Die video wys hoe Gouws reageer op die Kill the Boer-lied wat deur die EFF-leier, Julius Malema, gesing is.
‘n Petisie wat die oproep vir sy verwydering uit die parlement ondersteun, het meer as 40 duisend handtekeninge gekry. Gouws het intussen om verskoning gevra. Die parlement sê die DA moet die saak hanteer.