Die spanning het gister by tye hoog geloop tydens Prins Mangosuthu Buthelezi se begrafnis in Ulundi terwyl IVP leiers en die skare hoorbaar vyandig was teenoor ANC leiers. Alles was rustig volgens IOL, maar toe verskeie regeringsleiers wou praat, het ‘n rumoer onder die skare begin. Die program leier, minister Lindiwe Zulu, het Siboniso Duma as die provinsiale voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal voorgestel, terwyl die skare en leiers van die IVP hulle ontevredenheid gewys en harde geluide gemaak het. Die vyandigheid en uitjouery teenoor die ANC-sprekers het vererger toe pres Cyril Ramaphosa die verhoog betree het. Die skare het gesing “Ons wil nie vir Ramaphosa hê nie”. Talle IVP-leiers het ingetree en die skare kalmeer. Ramaphosa kon toe eers sy toespraak afhandel.