Suid-Afrikaners vestig hulle hoop in die regering van nasionale eenheid. Só skryf president Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief. Voorts sê hy dat die sukses van die RNE gemeet sal word aan die mate waatoe die beste belang van die land se burgers op die hart gedra word.
Tien partye is nou deel van die RNE. Voortaan sal hierdie tien partye saam moet besluit wanneer enige ander party deel van die eenheidsregering wil word. Hoewel die ANC en DA nog in onderhandelinge gewikkel is oor sekere aspekte van die twee partye se RNE-ooreenkoms, word daar steeds verwag dat die president die lede van sy kabinet in die komende dae bekend sal maak.
Helen Zille, voorsitter van die DA se Federale Raad, sê die onderhandelings verloop op ordelike wyse. Hoewel alles nog nie gefinaliseer is nie, sê Zille dat die gesprekvoering geensins ‘n dooiepunt bereik het nie.