President Cyril Ramaphosa sê gister se bevel van die Wêreldhof in Den Haag, is nie slegs ‘n oorwinning vir die internasionale reg nie, maar ook vir menseregte en geregtigheid.

Terwyl die Hof nie ‘n wapenstilstand gevra het nie, het hy Israel beveel om verdere lewensverlies in die Israel/Hamas-oorlog in die Gasastrook te voorkom. Hierbenewens moet Israel ook toesien dat broodnodige humanitêre hulp mense in die oorloggeteisterde gebied bereik.

Ramaphosa sê as ‘n nasie wat onteiening, staatsgesteunde geweld en apartheid ervaar het, sal SA nooit ander pad kyk wanneer ‘n ander volk onder soortgelyke onderdrukking gebuk gaan nie.

Intussen beskuldig die VF Plus die Suid-Afrikaanse regering van dubbele standaarde met betrekking tot sy klag teen Israel. Partyleier, doktor Pieter Groenewald, wil weet waarom die regering astronomiese bedrae hieraan bestee. Hy sê terwyl die ekonomie steier, vier misdaad hoogty, met ‘n gemiddeld van 76 moorde wat per dag in Suid-Afrika gepleeg word.

Groenewald sê Suid-Afrika word bestempel as een van die lande ter wêreld, met die meeste ongelykheid. Tesame met die werkloosheidskoers, van meer as 30 persent, dra dit volgens hom by tot die enorme lyding van miljoene Suid-Afrikaners.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×