Suid-Afrika kan sommige van sy steenkoolkragstasies dalk langer aan die lewe hou om beurtkrag te beperk, het president Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief geskryf. Dit beteken egter nie dat Suid-Afrika afsien van sy planne om ‘n regverdigige oorgang na groen-energie te bewerkstellig nie. Die land bly daatoe verbind om sy koolstof-voetspoor teen 2030 te verklein tot ‘n vlak wat die aarde se verwarming tot 1,5 grade celsius beperk. Ramaphosa het gesê die regering moet dit doen om die ergste uitwerking van aardverwarming, soos droogtes, vloede en ander rampe, te beperk. Die regering moet ook werksgeleenthede beskerm in sektore waar die koolstof-voetspoor verklein moet word sodat die land internasionaal mededingend kan bly.