As deel van die versterkte poging om ekonomiese sabotasie te bekamp, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens 20 ekonomiese infrastruktuur-taakspanne regoor die land gestig. Dit is volgens president Cyril Ramaphosa, wat gister op vrae van afgevaardigdes in die Nasionale Raad van Provinsies gereageer het. Die president sê ‘n bedryfsbegroting van sowat 20 miljoen rand is in die 2022/23 boekjaar aan hierdie spanne toegeken, en ‘n verdere 17 miljoen rand vir die 2023/24 boekjaar. Volgens Ramaphosa het die spanne sedertdien meer as vierduisend arrestasies gemaak met betrekking tot die skade aan noodsaaklike en kritieke infrastruktuur soos koperkabels en treinspore. Hy het gesê die spanne het ook meer as drieduisend arrestasies gemaak vir onwettige mynbou.