President Cyril Ramaphosa het Mcebisi Jonas as sy spesiale verteenwoordiger na die Verenigde State van Amerika aangestel.

Volgens ’n verklaring van die Presidensie sal Jonas die regering en die president verteenwoordig en werk om diplomatieke en ekonomiese bande tussen die twee lande te versterk.

Hy sal met Amerikaanse regeringsamptenare en sakelui skakel, strategiese vennootskappe bevorder en belegging in Suid-Afrika aanmoedig.

Jonas is ’n voormalige adjunkminister van finansies en dien sedert 2018 as een van die president se beleggingsverteenwoordigers.

Hy is ook die onafhanklike nie-uitvoerende voorsitter van MTN en sal dié rol behou.

Ramaphosa sê die aanstelling beklemtoon Jonas se toewyding aan die land se belange.

Hy voeg by dat Suid-Afrika en Amerika al jare lank ’n belangrike verhouding het wat op respek en wedersydse voordeel gebaseer is.

error: Inhoud is beskerm !!