Suid-Afrika het aldus president Cyril Ramaphosa, die Verenigde Nasies, of VN, gevra om ’n vredesplan op te stel wat die oorlog tussen Rusland en Oekraïne kan beëindig.
Netwerk24 berig Ramaphosa het gesê die plan moet aanvaarbaar wees vir die Amerikaans geleide Navo en ook vir Rusland.
Volgens die president moet die plan tot ’n blywende oplossing lei. Veiligheidsvrese van albei kante moet besweer word en ’n “wyer wêreldoorlog” moet hierdeur ten alle koste verhoed word.
Suid-Afrika loop onder heelwat, en dikwels heftige, kritiek deur weens sy houding oor die konflik.
Een van die grootste redes hiervoor is waarskynlik omdat hy Rusland nie oor sy inval in sy buurland op 24 Februarie 2022 veroordeel nie.
Intussen sal die Russies/Oekraïense oorlog na verwagting ook vandag ter sprake kom ten tyde van die staatsbesoek van president Sauli Väinämö Niinistö van Finland, aan Suid-Afrika. Ramaphosa het gesê die konflik in Soedan wek diepe kommer en het vir ’n onmiddellike skietstilstand gevra.
Finland het juis onlangs ’n lid van Navo geword in ’n poging om homself te beskerm, teen dit wat hy as Russiese aggressie beskou.
Finland word in ’n verklaring van die presidensie bestempel as ’n gewaardeerde vriend van Suid-Afrika, vanweë sy steun vir bevrydingsbewegings in Suider-Afrika.
Dit is die eerste staatsbesoek deur ’n Finse president aan Suid-Afrika in meer as 20 jaar.