Die voormalige Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, se paroolverhoor sal Vrydag begin. Hy dien tronkstraf uit vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie in 2013. Pistorius het suksesvol by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen om te bevestig dat hy sy vonnis in 2016 begin het, en nie in 2017 nie. Die Departement van Korrektiewe Dienste se korrektiewe toesig- en paroolraad sal op die datum van sy vrylating op parool besluit. Dít, indien gevind word dat hy gereed is om op parool geplaas te word. Reeva Steenkamp se ma, June, het aangedui dat sy nie die paroolverhoor sal bywoon nie en sy sal ook nie Pistorius se parool teenstaan nie.