Vordering word gemaak met die ondersoek, asook met die vervolging van verdagtes wat by die gewelddadige KZN-betogings van Julie 2021 betrek kan word. Meer as 300 mense is tydens die gewelddadige betogings in KwaZulu-Natal dood. Die Valke het verlede jaar 66 vermeende aanstigters tot geweld in hegtenis geneem.
Die verdagtes staan onder meer tereg op klagte van terrorisme. Ander aanklagte teen sekere van die beskuldigdes sluit ook sameswering om moord te pleeg, en openbare geweld in. Brett Herron, sekretaris-generaal van die Good-party, sê dit blyk egter dat talle ringkoppe nog nie vasgetrek is nie. Volgens Herron maak die stelsel dit moeilik vir fluitjieblasers om veilig te voel wanneerhulle inligting deel.