Die Rooimiere het ongeveer seweuur vanoggend in die area inbeweeg, om soos gister, kragtens ‘n bevel van die hooggeregshof, onwettige woonstrukture op die munisipale
grondgebied by Lourierpark af te breek.
Reaksiemagte van die Suid-Afrikaanse polisiediens, wat ook die eenheid vir openbare orde insluit, is in groot getalle in die Lourierpark-omgewing in Bloemfontein teenwoordig. Die opdrag aan die polisie is om met geen verdraagsaamheid nie, teen onwettige grondbesetters op te tree. Taakspanne word vanuit die lug deur ‘n helikopter bygestaan, om brandpunte van moontlike konfliksituasies uit te wys.
Alle toegange na die grondgebied is reeds vroegoggend deur owerhede gesluit. ‘n Beroep word op inwoners van Lourierpark, Pellissier en Bloemdal gedoen om – tot verdere kennisgewing – nie hulle huise te verlaat nie. Dié beroep word gedoen aangesien grondgrypers, volgens wetstoepassers, waarskynlik hierdie woonbuurte as ontsnappingsroetes kan gebruik, indien hulle sou besluit om polisieoptrede te probeer ontwyk.