Een van gholf se gewildste spelers, Rory McIlroy, het sy teenstand teen die LIV gholf versag deur te sê indien LIV ‘n formaat soortgelyk aan die Indiese Premierliga, of IPL, is en oor twee maande beslis word, sal hy dit oorweeg om daaraan deel te neem. McIlroy was sedert die ontstaan van die LIV sterk gekant teen die rebellereeks en die buitensporige groot bedrae geld wat aan spelers in die 12 spanne uitbetaal word. Die 34-jarige Noord-Ier het erken dat hy spelers wat by LIV aangesluit het, te vinnig veroordeel het. Hy aanvaar nou LIV is nou deel van die sport. McIlroy se Ryderbeker-spanmaat, Jon Rahm, het onlangs aangesluit en sal meer as 566-miljoen-dollar verdien.