7’S RUGBY – Die Blitsbokke het na ’n teleurstellende halfeindronde vertoning teen Frankryk  teruggeveg om die Olimpiese bronsmedalje na ’n spannende wedstryd teen Australië met 26 – 19 te wen.

Suid-Afrika wat deur die partydige Stade de France  toeskouers uitgejou is het egter kopgehou om aan hul afrigter Philip Snyman en veteraan Rosko Specman nog ’n 3de plek medalje te kon besorg. Snyman en Specman was deel van die Blitsbokke wat die land se 1ste bronsmedalje by die 2016 Rio Spele kon inpalm.

Frankryk is as die Olimpiese kampioen grkroon nadat die klein generaal Antoine Dupont  sy troepe na hul 1ste goue medalje gelei het deur Fidji met 28 – 7 in die eindstryd te klop.

 

CURRIEBEKER RUGBY – Die Boland het sy Curriebeker  1ste Divisie  titel suksesvol verdedig toe hy die OP in Wellington in baie moeilike speeltoestande kon troef. Na ekstra tyd was die telling nog steeds gelykop met 27 – 27 maar die Kavaliers het in terme van die reëls 5 drieë teenoor die 4 van die Olifante gedruk wat weer aan Hawies Fourie se span die silwerware besorg het.

*In die Premier -liga  het die Cheetahs wat die verdedigende kampioen is die Griffons naelskraap met 47 – 45 in Welkom geklop.

Die Haaie het die Leeus se tande met 35 – 22 op Ellispark getrek terwyl die Bulle ’n skitter terugvegpoging op Loftus Versveld teen die WP geloods het om met 50 – 34 die septer te kon swaai.

Die Pumas het ook tande gewys vir die Griekwas en die Poubloues Sondagmiddag met ’n telling van 66 – 26 in Mbombela verniel.

 

 

 

 

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×