RUGBY – Geharde Springbok ondersteuners sal saamstem dat Saterdag se oorwinning van 22 – 21 oor die Pumas – sowel as die danspassies voor en gedurende diè kragmeting – nie ’n mooi een was nie maar ’n wen bly ’n wen.
Diè wedstryd het rampspoedig begin toe die Argentynse heelagter Juan Cruz Mallia die Bok groentjie Grant Williams met sy heup teen die kop getref het. Williams is toe deur die Blonde Baron Faf de Klerk vervang wat weer sy ou self was en die veld vol gespeel het terwyl Eben Etsebeth en Malcolm Marx ook gewys het dat hulle Wêreldbeker wenners vir Suid-Afrika in Frankryk kan wees.
Die Groen en Goud sal egter beslis die All Blacks as hul grootste bedreiging sien toe die Swart Truie met die Wallabies in Melbourne gemors het in ’n wegholsege van 38 – 7. Nieu-Seeland is na hierdiè oorwinning weer die wenner van die Rugby Kampioenskaps-reeks terwyl die Bledisloe-beker ook weereens staanplek in hul trofeekas kry.
VROUE RUGBY – Die Vrystaat se vrouespan het ook hul plek in die eindstryd van die 1ste Divisie bespreek deur die Limpopo Bulle Saterdagmiddag in die Toyota Stadion met 74 – 5 af te slag.
Die Vrystaters pak die SWD Eagirls nou eerskomende Saterdag weer in Bloemfontein waar die wenners in ’n promosie / relegasie wedstryd gaan speel vir ’n plek in die Premier Liga.