RUGBY    Die Toyota Cheetahs het met ’n puik afgeronde vertoning die Lions gister op Ellispark met 52 – 15 afgeransel in die Curriebeker-reeks.

Die tuisspan het eerste punte aangeteken maar daarna het die Vrystaters beheer van die wedstryd oorgeneem en 8 drieë ingeryg terwyl die Gautengers ook net 2 keer met 5-punte kon terug antwoord.

Die Sharks het ook die Pumas hul 1ste nederlaag van die reeks toegedien toe hulle die Laevelders met 19 – 12 in Durban getroef het terwyl die Bulls uiteindelik hul wendroogte verbreek het met ’n sege van 40 – 3 oor die Griekwas op Loftus Versveld. Die WP was ook aan die wenkant met ’n stewige vertoning teen die Griffons waar hulle die kragmeting met 47 – 28 beklink het.

In die Europese Kampioenebeker-reeks het ’n flou Stormers span hulle rieme styf geloop teen die Exeter Chiefs en is met 42 – 17 uit diè toernooi geskakel terwyl die Sharks ook met leë hande terugkeer na hul pak slae van 54 – 20 teen Toulouse.

Die Blitsbokke se treurmare in die Wêreld 7’s-Reeks duur ook voort nadat hulle in Singapoer in die uitspeelwedstryd om die 9de plek met 5 – 12 teen Spanje vasgeval het.

Nieu-Seeland het ook weereens in hierdiè toernooi uitgeblink en ’n taai eindstryd met 19 – 17 teen Argentinië gewen.

Die Groen en Goud het nou afgeskuif na die algehele 7de plek op die punteleer en ook hul kans om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer erg geknou waar die boonste 4 spanne outomaties deurdring na diè 2024 skouspel.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×