RUGBY – Die Toyota Cheetahs se hantering het hulle gister teen Pau in ’n yskoue Amsterdam in die Europese Uitdaagbeker-reeks van ‘n 3de oorwinning ontneem.
Die Franse span het die 2023 Curriebeker kampioen met 33 – 20 geklop nadat hulle rustyd met 17 – 12 voorgeloop het.
Die sterk Fidjiaanse vleuel Aminiasi Tuimaba is met 22 minute se speeltyd oor met ’n geelkaart van die veld gestuur na ’n gevaarlike duikslag terwyl die Vrystaters nie die voordeel van 1-speler-minder kon uitbuit nie aangesien Rynier Bernardo ook in die 66ste minuut koelkas toe gestuur is.
In die 75ste minuut het Pau se skrumskakel en voormalige Engelse speler Dan Robson met ’n briljante dartellopie die Cheetah verdedigers na lug laat gryp en met ’n skitter drie ’n welverdiende oorwinning vir sy span verseker.
*Die Cheetahs speel eerskomende Saterdag om 17:15 (SA Tyd) teen Oyonnax wat ook die afgelope naweek met 38 – 7 deur die Haaie verniel is.