Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Varsitybeker-span is met vyf punte beboet ná hulle ‘n speler in hulle 23-man groep ingesluit het wat nie kwalifiseer om in diè reeks te speel nie.
Kgothatso Sono het in sy eerste wedstryd in vanjaar se kompetisie op skrumskakel vir die Ixias uitgedraf teen UJ wat die SUT verlede week in Johannesburg met 29 – 13 gewen het.
KT, soos hy op die veld bekend staan, kwalifiseer nie om vir die Bloem-span te speel nie weens die feit dat hy nog verlede jaar ‘n student aan die Universiteit van Johannesburg was en UJ in die Varsitybeker verteenwoordig het.
Die Ixias het afgeskuif na vyfde plek op die punteleer en sal sake eerskomende Maandag weer wil regstel wanneer die Bloemfonteiners na Stellenbosch reis om die Maties in die Danie Craven Stadion aan te vat.