RUGBY – Menige sport entoesiaste sal saamstem dat die eindtelling op die ou einde al is wat saakmaak en dit is presies wat die Toyota Cheetahs reggekry het in hul wedstryd in die Europese Uitdaagbeker-reeks toe hulle Pau naelskraap geklop het met ’n telling van 9 – 6.

Die Vrystaters het met hierdiè oorwinning verseker dat hulle na die uitspeelrondes deurdring nadat hul skopheld en losskakel Siya Masuku so koel soos ’n komkommer gebly het om in die doodsnikke met ’n strafskop van 48 meter te kon slaag en sodoende die oorwinning vir sy span kon verseël.

Die wedstryd kon nooit behoorlik aan die gang kom nie en met lemoentyd was die tellings nog gelykop met 3 – 3 elk. Masuku was aan die einde suksesvol met 3 strafskoppe terwyl sy direkte opponent Thibault Dibaes ook met die 2 strafskoppe in die kol was.

Die Toyota Cheetahs sal nou in die laaste ronde van 16 gedurende die naweek van 31 Maart en 2 April teen Toulon te staan kom.

7’S RUGBY –  Die Blitsbokke het die afgelope naweek goed begin in Nieu-Seeland maar nederlae teen onderskeidelik Frankryk en Ierland het beteken dat Suid-Afrika uiteindelik met ‘n 7de plek in diè toernooi tevrede moes wees.

Argentinië is as die wenners gekroon nadat die Pumas die gasheerland in ’n dramatiese eindstryd met 14 – 12 kon troef. Die Suid-Amerikaners het halftyd met 12 – 0 agtergeloop maar met 2 verdoelde drieë verseker dat hulle die beker omhoog kon lig.

Die Blitsbokke wat tans afgeskuif het na die 4de plek op die punteleer sal probeer om sake reg te stel wanneer ronde nommer 5 eerskomende Vrydag voortgesit word in Sydney.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×